Besproeiingspatent ’n aanwins in pekan:
November 2018 – Sedert die Tree Hog vroeg verlede jaar bekend gestel is, het boere oral in die land hul eie proewe begin doen in onder meer vrugte, neute en wingerde, en daarna bestellings geplaas.
Die Tree Hog is ’n veelkantige UV-gestabiliseerde polipropileen-omhulsel wat om die stam van ’n boom aangebring word sodat water en ook kunsmis presies in die wortelsone geplaas word. Dit beperk verdamping en water dring ook die grond veel dieper in omdat oor ’n kleiner area besproei word. Dit is geskik vir sowel mikro- as drupbesproeiing.
Die Tree Hog is ontwikkel deur Louis Loubser,’n vrugte- en wynboer van Robertson, wat sy sitrus doeltreffender wou besproei. Die resultate, wat deur ’n studie van Universiteit Stellenbosch onderskryf is, het sy stoutste verwagtinge oortref.
Daar is bewys dat die Tree Hog water- en kragverbruik met 70% of meer (afhangend van die grondtipe en besproeiingsmetode) verlaag. Dit verbeter grond se vogprofiel, beperk wisselings in grondtemperatuur en elimineer onkruid wat om die stam kompeteer vir water. Die gevolg is stresvrye bome met vinniger wortel- en loofgroei.
Tree Hog is plaaslik en internasionaal gepatenteer. Dit word verkoop deur Temo Parts, ’n sake-eenheid van BHBW (voorheen Barloworld Agriculture).
Die eerste groot Tree Hog-aanplanting in pekan is in Augustus 2017 by Hoopstad gedoen. Ná puik resultate met die eerste 1 100 bome (Wichitas en Navaho’s) is nog 1 100 bome in Augustus vanjaar met Tree Hogs aangeplant. Dit is hoëdigtheid-boorde wat volgens die 10×5-stelsel aangeplant is.
0%-verlies
Sedert Augustus 2017 het nie een van die bome verlore gegaan nie, danksy goeie plantmateriaal en die feit dat die Tree Hog afgesien van sy ander voordele ook ongediertes soos ystervarke weghou.
Gebaseer op grondvogprofiele word die boorde meestal een keer per week vir tot ’n uur lank besproei, teen 90 liter per uur. In die warmste maande word tot drie keer per week besproei, ook vir ’n uur lank. In die koudste wintermaande word besproeiing verlaag tot sowat een keer in ses weke.
Wind en verdamping is nie ’n kopseer nie. Water word ewe effektief toegedien in September tot Desember, wanneer die wind by Hoopstad soms so erg waai dat jy nie 50 meter ver kan sien nie, en ook op bloedig warm dae.
Omdat daar geen onkruid by die stam van die boom is nie (’n area van 500 x 600 mm), word geen arbeid of chemiese middels benodig om dit te verwyder nie. Al onkruid wat opkom, is seisoenale onkruid tussen bome.
Wortelgroei
Ná agt maande het die sywortels in die eerste pekanboord reeds tot 2,5 meter weg van die bome gegroei – wat wys hoe goed die Tree Hog daarin slaag om ’n konstante vogprofiel te handhaaf en stres uit te skakel.
Die Tree Hog skep nie ’n potplant-effek nie omdat die water ondergronds wyer versprei. Danksy ventilasiegate ontstaan daar ook nie ’n kweekhuiseffek binne die omhulsel wat siektes kan veroorsaak nie.
Louis en Janus Weir van Temo Parts reis regdeur die land om boere te help met proewe en Tree Hog te bemark. “Kwelpunte verskil van boord tot boord,” sê Louis. “Dit kan te min water wees, te veel wind of hoë grondtemperature. Om water beter, vinniger, dieper en wyer neer te sit, is bitter moeilik met normale besproeiingspraktyke. As dit byvoorbeeld warm raak vir twee dae, droog die boonste 100-200 mm van jou profiel uit en die res is nog nat. Met Tree Hog kan jy die profiel met jou eerste en tweede besproeiing vul omdat ’n hoë volume suurstofryke water ingeforseer word. Ons data bewys dat Tree Hog ’n profiel van 100-600 mm vul en dit gelyktydig laat uitdroog.”
Die mikrospuit word binne die Tree Hog aan ’n spuithaak gehang. Besproeiing kan op twee maniere plaasvind: bedekking van die volle area of nie-direkte stambespuiting. Dit beteken direkte/harde water hoef nie direk op sensitiewe kultivars se stam toegedien te word nie. Die Tree Hog se opening is 160 mm en kan deur middel van ’n “breakout rim” vergroot word tot 260 mm, sodat dit ook in gevestigde boorde gebruik kan word.
Vir meer inligting kontak Louis Loubser by 072 549 9925 of louis@treehog.co.za, of Janus Weir by 083 644 8557 of jweir@bhbw.co.za.