Dankie aan die Challenger-eienaars

Augustus 2018 – Challenger-rusperbandtrekkers is 15 jaar lank reeds die markleier in hul segment in Suid-Afrika. Om dit te vier en ook dankie te sê aan Challenger-eienaars vir hul ondersteuning reik BHBW Suid-Afrika (voorheen Barloworld Agriculture) nou vyf “Limited Edition”-trekkers uit.

In samewerking met die vervaardiger van Challenger, AGCO, word vyf MT 765E-modelle van 280 kW, beskikbaar gestel met ‘n moderne kamoefleerbaadjie wat die koppe gaan laat draai, sê Robbie Hall, nasionale verkoopsbestuurder vir Challenger by BHBW.

“Saam met produsente regoor die land het ons Challenger gevestig as die nommer een in rusperbande – van die Wes-Vrystaat waar dit diep ripwerk met reuse-skeurploeë in sandgrond moontlik maak tot die Noord-Kaap, waar dit klaarspeel met bewerkings in besproeiingsirkels,” sê Hall. “Produsente kom – soms met ompaaie! – maar altyd weer terug na Challenger se rusperbandtegnologie.

“Dit is dus gepas dat ons ná 15 jaar hierdie vennootskap op ’n spesiale manier vier.”

Daar is vandag twee rusperbandreekse in BHBW se Challenger-stal – die MT 700E-reeks met twee modelle van 280 en 317 kW en die nuwe MT 800E-reeks van 365 tot 440 kW.

Sedert Challenger-rusperbandtrekkers in 2004 in Suid-Afrika begin loop het, het dit grense versit in plaaslike meganisasie deur bewerkings en doeltreffendhede moontlik te maak waarvan voorheen net gedroom is.

Challenger is die enigste landboutrekker wat spesiaal vir rusperbande ontwerp is en die gepatenteerde Mobil-trac-onderstel is die sleutel tot sy werkverrigting. Dié onderstel word gebruik sedert 1987 toe Caterpillar die Challenger Model 65, die eerste trekker met rubber-rusperbande, in Amerika bekendgestel het.

Sedertdien daardie eerste bekendstelling is die tegnologie verder verfyn, ook nadat AGCO Challenger in 2002 by Caterpillar oorgeneem het.

Die Mobil-trac-rusperbande het elk vier paar ossillerende wiele by die MT 800E-reeks en drie paar by die MT 700E-reeks, sodat die trekkers nooit “hop” nie. Dié wiele vergroot die bande se kontak met die grond, wat sorg vir beter vastrapkrag. Dit verminder ook grondverdigting, sodat jy grond se potensiaal beter kan ontgin vir maksimale opbrengs, sê Robbie.

Danksy die Challenger se langer voetspoor en beter traksie as dié van ’n vergelykbare wieltrekker word meer krag na die grond verplaas. “Challenger-toetse toon ‘n toename in trekkrag van 10% tot 20%. As jy 1 000 uur werk, wen jy dus 100 tot 200 uur. Jy kan wyer implemente sleep, met minder grondverdigting en ’n hoër werkspoed, of dieselfde implement trek met minder moeite en ’n besparing op brandstof.”

’n Hoër werkspoed beteken dat lande in optimale toestande bewerk kan word, wat uiteindelik ook jou oesopbrengs verhoog.

Ander Challenger-voordele sluit in die rygerief wanneer op ongelyke lande of oor rye gewerk word, en groter stabiliteit teen skuinstes. Kraglewering bly dieselfde ondanks veranderings in wielglip en banddruk hoef nie gewysig te word nie.

Die Challenger MT 765E
Die Challenger MT 765E word aangedryf deur ‘n brandstofdoeltreffende AGCO Power-enjin wat ontwerp is vir groter wringkrag sodat jy die enjin se volle krag kan benut en meer met minder brandstof gedoen kry, ook onder swaar vrag.

Met hidrouliese vloei van 324 liter per minuut kan dit gebruik word om wydwerkplanters van tot 36 rye, groot saaiers en ander presisieboerderytoerusting met groter hidrouliese vereistes te sleep, sê Robbie. Dit het ‘n hysvermoë van tot 12 ton op die driepunt.

Boonop maak die kompaktheid van die MT 765E hom ongelooflik veelsydig. “Dit is ’n trekker wat vier of vyf keer per jaar winsgewend gebruik kan word, vir enigiets van swaar ripwerk en skoffel tot plant en die sleep van tapkarre.”  

Die driepunt het ook ’n stuurmeganisme wat werktuie “korrigeer” sodat daar altyd presies op die spoor gewerk word en jy kan draai sonder dat tande van die implement in die grond buig. Dit is veral ’n voordeel wanneer in sirkels of teen kontoere gewerk word.  

Om vir plaaslike toestande voorsiening te maak, word die MT 765E soos alle Challengers standaard verskaf met “extreme application”-rusperbande. Die spoorwydte kan verstel word tussen 2 032 mm tot 3 048 mm.

Vir meer inligting, kontak Robbie Hall van BHBW Suid-Afrika by 082 622 1972.