En dan is daar Fendt

Mei 2018 – Sedert Fendt-trekkers verlede jaar in Suid-Afrika bekend gestel is, het dit naam gemaak vir uitsonderlike werkverrigting en brandstofekonomie. Plaaslike Fendt-eienaars is dit eens: Só ’n geniale kombinasie van trekkertegnologie het hulle nog nie voorheen gesien nie. 

Dit is veral die vlagskip, die Fendt 1000 Vario-reeks van 291 tot 380 kW, wat opslae maak. Die Fendt 1000 Vario is ’n konvensionele wieltrekkerreeks, maar daar is niks konvensioneels aan hom nie. Daarvoor sorg baanbrekertegnologie, sê mnr. Cornie Tosen, nasionale verkoopsbestuurder vir Fendt by BHBW Suid-Afrika (voorheen Barloworld Agriculture).

Die hart van dié trekkers is VarioDrive, die eerste trekkertransmissie ter wêreld wat onafhanklike vierwielaandrywing moontlik maak. Dit sorg vir die ideale wringkragverspreiding na die voor- en agterasse, sodat die trekker sy volle 380 kW op die grond neersit. Ses massiewe wiele (die vlagskip- Fendt 1050 Vario se agterbande is amper 2,35 meter in deursnee) dra hiertoe by, sê Cornie.

Die Fendt 1000 Vario is ook die eerste trekker waarvan alle komponente wat krag verbruik (van die 12,4 liter MAN-sessilinderenjin en VarioDrive-transmissie tot die waaier en hidrouliese stelsel) volgens ’n omvattende lae-enjinomwentelinge-hoë-wringkrag-beginsel genaamd Fendt iD ontwerp is. Die gevolg is uitsonderlik lae brandstofverbruik.

Maksimum wringkrag van 2400 Nm word van 1100 tot 1500 omwentelinge per minuut gehandhaaf. Maksimum kraglewering en wringkrag sowel as die laagste spesifieke brandstofverbruik word teen net meer as 1400 opm bereik en gehandhaaf danksy die VarioDrive-transmissie wat die werkspoed outomaties by toestande aanpas. Van 200 m/h tot 40 km/h werk die enjin dus konstant teen optimale omwentelinge, wat brandstofverbruik per hektaar verlaag en die dienslewe van die enjin en ander komponente verleng.

“Van groot belang vir plaaslike grondbewerkings- en plantpraktyke is dat hidrouliese vloei tot 430 liter per minuut verhoog kan word, met twee onafhanklike hidrouliese kringe wat 220 liter en 210 liter onderskeidelik lewer,” sê Cornie.

“Trekker betaal homself”
Een van die eerste plaaslike Fendt-eienaars is mev. Tharina Terblanche, wat tussen Sasolburg en Parys boer en onder meer 2 500 hektaar mielies en sojabone plant. Sy het in Oktober verlede jaar ’n Fendt 1050 Vario aangekoop en die trekker gebruik om 1 000 hektaar te bewerk. In Tharina Boerdery se sandleemgrond het dit 12 liter brandstof per hektaar verbruik met die sleep van ’n 14 m-skeurploeg met 15 tande wat 450 mm diep werk, en agt liter per hektaar met ’n snyeg met 110 skottels.

“Met ’n besparing van 25% op brandstof teenoor die trekker wat deur die Fendt vervang is, en nadat ons twee ekstra tande bygesit het vir diep bewerking, sal die trekker homself oor vyf jaar betaal,” sê sy.

“Ek het baie vertroue in Duitse tegnologie en Fendt het nie sy gelyke nie. ’n Groot voordeel is onder meer dat die trekker sy krag (kilowatt en wringkrag) outomaties van voor na agter, en andersom, verskuif soos benodig, wat power hop uitskakel as jy met ’n swaar implement werk.

“En al is dit so ’n gesofistikeerde trekker, is dit baie eenvoudig om mee te werk. Daarby dra die luukse kajuit met sy gebruikersvriendelike 10 duim-raakskerm by tot uitnemende operateursgerief, en met ’n liguitset van 48 500 lumen straal die LED-ligte soos daglig, wat nagwerkery vergemaklik.” Haar Fendt 1050 Vario het 16 uur per dag, ses dae per week gewerk “sonder ’n halwe sekonde se probleme”.   

Fendt word direk bemark deur BHBW, die gesamentlike onderneming tussen Barloworld en die BayWa van Duitsland, wat ook die wêreld se grootste Fendt-handelaar is. “Dit gee my baie vertroue om te weet dat ek direk met BHBW werk, dat tegniese steun deur opgeleiede tegnici van BHBW verskaf word, en dat ek onderdele regstreeks van BHBW kan kry wanneer dit nodig sou wees. Ek glo dit sal staantyd verminder,” sê Tharina.  

Fendt-trekkers is beskikbaar met kraglewering van 51 kW tot 380 kW. In Suid-Afrika fokus BHBW afgesien van die Fendt 1000 Vario op die volgende reekse: die Fendt 900 Vario (199-243 kW), Fendt 800 Vario (162-206 kW) en Fendt 700 Vario (94-162 kW).