Fendt tuis op knakkerterrein
Augustus 2018 – As jy ’n paar jaar gelede ’n wieltrekker van 380 kW wou hê, was ’n knakker jou enigste opsie. Nou bied Fendt ’n opwindende alternatief – ’n vasteraamtrekker wat veeldoelig gebruik kan word en boonop vir optimale gerief, werkverrigting en brandstofverbruik sorg.
Met die 1000 Vario-reeks het die Duitse trekkervervaardiger Fendt ‘n nuwe trekkersegment geskep – konvensionele wieltrekkers tot 380 kW. Die reeks bestaan uit vier modelle met kraglewering van 291, 320, 350 en 380 kW onderskeidelik, wat beteken Fendt bevind hom stewig op knakkerterrein. Maar, sê Willie Stander, hoofbestuurder vir Fendt by BHBW Suid-Afrika (voorheen Barloworld Agriculture), die 1000 Vario bied veel meer as brute trekkrag vir die sleep van groot implemente met primêre grondvoorbereiding.
“Dit kan die werk doen van ’n geartikuleerde trekker, maar kan ewe doeltreffend gebruik word vir ander bewerkings en plantwerk, om groot blokbalers te sleep, en vir vervoer. Rygewas-konfigurasies is ook beskikbaar, sodat die trekkers regdeur die seisoen gebruik kan word.”
Die 1050 Vario is reeds plaaslik met sowel breë bande vir grondvoorbereiding as rygewas-bande verskaf. Die wiele word maklik geruil, aangesien die trekker se eie hidrouliese stelsel gebruik word om dit op te tel.
Die 1000 Vario is toegerus met VarioDrive, die eerste trekkertransmissie ter wêreld wat onafhanklike vierwielaandrywing moontlik maak. Dit sorg vir die ideale wringkragverspreiding na die voor- en agterasse, sodat die trekker sy volle kilowatt op die grond neersit. Ses massiewe wiele (die 1050 Vario se agterbande is amper 2,35 meter in deursnee) dra hiertoe by.
Die 1000 Vario is ook die eerste trekker waarvan alle komponente wat krag verbruik (van die 12,4 liter MAN-sessilinderenjin en transmissie tot die waaier en hidrouliese stelsel) volgens ’n omvattende lae-enjinomwentelinge-hoë-wringkrag-beginsel genaamd Fendt iD ontwerp is. Die gevolg is uitsonderlik lae brandstofverbruik.
Maksimum wringkrag van 2400 Nm word van 1100 tot 1500 omwentelinge per minuut gehandhaaf. Maksimum kraglewering en wringkrag sowel as die laagste spesifieke brandstofverbruik word teen net meer as 1400 opm bereik en gehandhaaf danksy die VarioDrive-transmissie wat die werkspoed outomaties by toestande aanpas. Van 200 m/h tot 40 km/h werk die enjin dus konstant teen optimale omwentelinge, wat brandstofverbruik verlaag en die dienslewe van die enjin en ander komponente verleng.
Hidrouliese vloei kan tot 430 liter per minuut verhoog word, met twee onafhanklike hidrouliese kringe wat 220 liter en 210 liter onderskeidelik lewer.
Gewigte van tot 1 250 kg kan bygevoeg word op elke agterwiel (daar is ook ‘n neusgewig-opsie van ‘n ekstra 3,3 ton). Daarby dui ‘n stelsel genaamd Grip Assist aan hoeveel gewig waar benodig word en wat die banddruk moet wees, gebaseer op die werk wat gedoen word, bandgrootte en werkspoed. Grip Assist werk in kombinasie met die Vario Grip-opsie, wat jou toelaat om die banddruk in die ry vanuit die kajuit te verstel.
Die 1000 Vario is sowat 1,5 meter korter as die gemiddelde knakker en sy veel skerper draaisirkel beteken dat hy ewe doeltreffend op kleiner lande gebruik kan word.
“Daarby het ‘n vasteraamtrekker minder slytasie as ‘n geartikuleerde trekker, wat koste van eienaarskap verlaag. Depresiasie is ook minder aangesien ‘n konvensionele wieltrekker beter inruilmoontlikhede bied,” sê Stander.
Beste brandstofverbruik ooit
Die uitsonderlik lae brandstofverbruik van Fendt op plaaslike bodem is onlangs amptelik bevestig deur die gesaghebbende onafhanklike toetssentrum van die Duitse landbouvereniging (DLG). DLG, wat alle fabrikate toets, het drie Fendt 1000 Vario-modelle onderwerp aan sewe werksiklusse in sy PowerMix-toets. Die uitslag: al drie bied die laagste spesifieke brandstofverbruik wat nog ooit aangeteken is. Die vlagskip, die Fendt 1050 Vario van 380 kW, stel ’n nuwe standaard teen slegs 233 g/kWh.
Fendt word direk bemark deur BHBW, die gesamentlike onderneming tussen Barloworld en die BayWa van Duitsland, wat ook die wêreld se grootste Fendt-handelaar is. Fendt-trekkers is beskikbaar met kraglewering van 51 kW tot 380 kW. In Suid-Afrika fokus BHBW afgesien van die Fendt 1000 Vario op die volgende reekse: die Fendt 900 Vario (199-243 kW), Fendt 800 Vario (162-206 kW) en Fendt 700 Vario (94-162 kW).