Massey Ferguson bied alles vir hooimaak:

November 2018 – Met die toevoeging van beproefde rondebaler-tegnologie van Welger tot sy Massey Ferguson-reeks bied BHBW nou aan plaaslike boere en kontrakteurs ’n hooimaakpakket soos min.

Dit volg ná die oorname van Lely se voermaakafdeling (wat Welger insluit) deur AGCO, wat Massey Ferguson vervaardig. Boere kan dus nou staatmaak op ’n volledige Massey Ferguson-hooimaakreeks, wat naas rondebalers ook vierkant- en blokbalers, tolsnyers, hooilugters, kragharke en laaigraaf-opsies vir baalhantering insluit. ’n Selfaangedrewe platsnyer uit Amerika is ook beskikbaar.

Die hele reeks is ontwerp vir hoë werkverrigting wat boere help om produktief en kostedoeltreffend gehaltevoer te maak.

Nuwe Massey-rondebalers

Massey Ferguson se RB-rondebalerreeks bestaan uit sewe modelle met vaste of veranderlike kamers vir die baal van hooi, kuilvoer en strooi.

Drie vastekamer-modelle is beskikbaar: die intreevlak- MF RB 3130F Classic, die MF RB 3130F en die swaardiens- MF RB 3130F Xtracut. Hierdie balers maak bale met ’n deursnee van 1,25 meter. 18 staalrollers en ’n vinnige baalrotasie sorg vir kompakte, eenvormige bale.

Die reeks bied ook vier modelle met veranderlike baalkamers – die MF RB 4160V Classic of Xtracut, en die MF RB 4180V Classic of Xtracut, wat bale van 0,9m tot 1,6 of 1,8m in deursnee en tot 800 kilogram maak. Vier naatlose dubbellaagbelde verseker duursame werkverrigting teen hoë snelhede.

Afhangend van die model is die balers beskikbaar met net, of met tou sowel as net.

’n Xtracut-funksie met 13, 17 of 25 snylemme, afhangend van die model, is beskikbaar waarmee hooi fyner gekerf kan word. Die lemme is die langste op die mark, sodat geen materiaal oorgeslaan word nie.

Kenmerke van die rondebalers sluit in ’n opteller sonder ’n nokbaan (“camless pickup”) wat die gladde invoer van materiaal verseker. Vyf rye tande, wat slegs 64 mm uit mekaar gespasieer is, sorg dat materiaal egalig en skoon opgetel word.

Om produktiwiteit te verhoog, kan groter balers met ’n Hydroflex-beheerstelsel verskaf word. Wanneer die invoervolume buitengewoon groot is, sak die plaat agter die opteller outomaties om materiaal deur te laat en verstoppings te verhoed. Groot verstoppings word verwyder deur die agterste vloer van die baalkamer hidroulies vanuit die kajuit te laat sak.

Alle modelle het ’n Powersplit-ratkas wat aandrywing tussen die baalkamer en die rotor verdeel. Dit verlaag die kragvereiste en sorg vir gladder werkverrigting.

Daarby verleng outomatiese smering die lewe van kettings en verminder onderhoud. Geen roller hoef ook uit die baler gehaal te word om ’n laer te vervang nie.

Die ander balers in die Massey Ferguson-reeks is die bekende klein vierkantbaler met sy reguitlyn-ontwerp en groot blokbalers met hoëkapasiteit-werkverrigting wat ook reeds hul staal in plaaslike toestande bewys het.

Sukses met hooimaak begin by ’n goeie, skoon snit wat hergroei bevorder. Hiervoor het Massey Ferguson ’n verskeidenheid tolsnyers om in elke behoefte te voorsien. Soos die hooilugters en kragharke bied die tolsnyers die voordele van beproefde Fella-tegnologie ná die oorname van Fella deur AGCO in 2011.

Driepunt- en sleepsnyers met werkwydtes van 1,66 tot 9,3 meter is beskikbaar, asook modelle met ’n werkwydte van 3 meter wat voor die trekker gemonteer kan word. Rollerkneusers is beskikbaar afhangend van die model.

Kragharke met ’n enkelrotor of twee of vier rotors is beskikbaar in modelle van 3,4 tot 12,5 meter. Dié harke is ontwerp om groot hoeveelhede materiaal vinnig in presiese windrye bymekaar te hark ongeag die terrein.

Die drie hooilugters (“tedders”) het ’n werkwydte van 4,5 to 6,6 meter en het onder meer ’n selfstabilisering-koppelstelsel wat stabiliteit verseker wanneer gewerk word en met vervoer – ook teen hellings.

Massey Ferguson se selfaangedrewe WR 9760-platsnyer uit AGCO se Hesston-fabriek in Amerika verseker die doeltreffende, ekonomiese platsny van enige gewas – van lusern en gras tot kuilvoermielies en koring. Die WR 9760 met sy AGCO Power-enjin van 140 kW is beskikbaar met ’n snykop of “draper”-tafel.

Vir meer inligting kontak jou naaste Massey Ferguson-handelaar of Theo Pieterse van BHBW by 011 898 0440.Massey Ferguson se nuwe rondebaler is hier: