Massey Ferguson bied meer bo 120 kW:

Augustus 2018 – Die stewige markaandeel van Massey Ferguson se hoëspesifikasietrekkers bo 120 kilowatt doen hul reputasie vir produktiwiteit en brandstofdoeltreffendheid gestand. Die aanbod is nou verder versterk om nog beter aan plaaslike behoeftes te voldoen.

BHBW Suid-Afrika (voorheen Barloworld Agriculture) en Massey Ferguson maak goeie vordering om waarde toe te voeg in die hoëspesifikasie-trekkersegment bo 120 kilowatt, ten opsigte van sowel produk as die integrering van presisieboerdery-tegnologie.

BHBW bedien produsente tans met twee trekkerreekse in dié segment: die nuwe MF 7700-reeks met drie modelle van 136, 162 en 177 kW, en die MF 8700-reeks met drie modelle van 188, 224 en 262 kW (aangeslane krag aangedui). Die trekkers word in Beauvais, Frankryk vervaardig.

Die mees onlangse toevoeging is die MF 8727 van 188 kW, wat aan produsente ‘n veeldoelige swaarraam-rygewastrekker onder 200 kW bied. Soos die groter modelle in die MF 8700-reeks beskik dit oor ‘n AGCO Power 8.4 CTA-enjin, hoë CYCLAIR-verkoelingskapasiteit en Dyna-VT-transmissie, wat doeltreffende werkverrigting bevorder. Die transmissie bied deurlopende spoedvariasie, terwyl die trekkerbestuurstelsel, DTM (Dynamic Tractor Management), outomaties die enjinspoed en transmissie aanpas vir maksimum kraglewering en brandstofekonomie in strawwe toepassings.

Die trekker het ‘n hysvermoë van 12 ton op die driepunt en ‘n hidrouliese kapasiteit van 205 liter per minuut om stabiele vloei vir die beheer van implemente te lewer.

Dit is ’n meerdoelige trekker wat regdeur die jaar winsgewend aangewend kan word – vir onder meer grondvoorbereiding, die sleep van breedwerkplanters, skoffelwerk in die ry, topbemesting en vervoer.

Wat tegnologie vir presisieboerdery betref, word die MF 8700-reeks nou standaard toegerus met Massey Ferguson se nuwe AgControl-stelsel wat optimale integrasie met Isobus-versoenbare werktuie verseker. Die AgControl-stelsel is ten volle geïntegreer met die trekker se presisiestuurstelsel en word vanuit die kajuit met operateur-vingerpunt beheer.

Dit maak onder meer varieerbare toediening van tot vyf produkte asook beheer van tot 250 seksies moontlik. Saad, kunsmis en plaagdoders word presies en sonder oorvleueling toegedien, wat insetkoste verlaag en oesopbrengste verhoog.

Plaaslike produsente wat Massey Ferguson se hoëtegnologietrekkers gebruik, sonder die trekkers se produktiwiteit en brandstofverbruik uit, asook die gerieflike hantering van gevorderde funksies. Dit is duursame, betroubare trekkers wat maksimum werktyd verseker in kritieke tye.

BHBW streef daarna om koste van eienaarskap so laag moontlik te hou. Die MF 8700-reeks is mededingend geprys, veral as jy in ag neem hoeveel trekker jy vir die prys kry. Tesame met optimale werktyd en loopkoste, sorg dit vir ‘n uitstekende opbrengs op jou belegging.  

Die nuwe MF 7700-reeks van 136 tot 177 kW is ‘n opgradering van die hoërkilowatt-modelle in die beproefde MF 7600-reeks. Die drie modelle in die reeks is toegerus met AGCO Power-enjins en Dyna 6-transmissies met 24 vorentoe- en truratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel. Die trekkers het ‘n hysvermoë van 9,3 tot 9,95 ton. Soos die MF 8700-reeks is dit ontwerp vir maksimum kraglewering en wringkrag, en ook brandstofekonomie.

Die BHBW-span leef na aan die grond en sy klante, wat hom in staat stel om sy Massey Ferguson-reeks voortdurend aan te pas en uit te brei om meer behoeftes aan te spreek. Daarby gee produsente uitstekende terugvoer oor die gehalte van rugsteuning deur BHBW en sy handelaarsnetwerk.

Groot fokus word deurentyd geplaas op tegniese ondersteuning en onderdeleversiening. Ons doelwit is om omvattende oplossings en die nuutste tegnologie beskikbaar te stel sodat produsente meer produktief, winsgewend en volhoubaar kan boer.