Massey Ferguson se nuwe rondebaler is hier:

November 2018 – Massey Ferguson het sy hooimaakreeks versterk met ‘n rondebaler wat spog met ‘n stamboek soos min.

Dit volg ná die verkryging van Lely se voermaakafdeling (wat Welger insluit) deur die vervaardiger van Massey Ferguson, AGCO, in Oktober 2017. Boere kan dus nou staatmaak op ‘n volledige Massey Ferguson-hooimaakpakket, wat naas rondebalers ook vierkant- en blokbalers, tolsnyers, hooilugters en kragharke insluit.

Die RB-rondebalerreeks bestaan uit vyf modelle met vaste of veranderlike kamers vir die baal van gehaltehooi, -kuilvoer en -strooi regoor die spektrum.

Drie vastekamer-modelle is beskikbaar: die intreevlak- MF RB 1125F, die MF RB 2125F en die swaardiens- MF RP 2125F. Hierdie balers maak bale met ‘n deursnee van 1,25 meter. 18 PowerGrip-staalrollers en ’n vinnige baalrotasie sorg vir kompakte, eenvormige bale.

Die reeks bied ook twee modelle met veranderlike baalkamers – die MF RB 4160V en MF RB 4180V, wat bale van 0,9m tot 1,6 of 1,8m in deursnee en tot 800 kilogram maak. Vier naatlose dubbellaagbelde verseker duursame werkverrigting teen hoë snelhede.

Kenmerke van die reeks sluit in ‘n opteller sonder ’n nokbaan (“camless pickup”) wat die gladde invoer van materiaal verseker. Vyf rye tande, wat slegs 64 mm uit mekaar gespasieer is, sorg dat materiaal egalig en skoon opgetel word.

‘n Xtracut-funksie met 13, 17 of 25 snylemme, afhangend van model, is beskikbaar waarmee hooi fyner gekerf kan word. Die lemme is die langste op die mark, sodat geen materiaal oorgeslaan word nie.

Om produktiwiteit verder te verhoog, kan groter balers met ‘n Hydroflex-beheerstelsel verskaf word. Wanneer die invoervolume buitengewoon groot is, sak die plaat agter die opteller outomaties om materiaal deur te laat en verstoppings te verhoed. Groot verstoppings word verwyder deur die agterste vloer van die baalkamer hidroulies vanuit die kajuit te laat sak.

Alle modelle het ‘n Powersplit-ratkas wat aandrywing tussen die baalkamer en die rotor verdeel. Dit verlaag die kragvereiste en sorg vir gladder werkverrigting.

Daarby verleng outomatiese smering die lewe van kettings en verminder onderhoud. Geen roller hoef ook uit die baler gehaal te word om ‘n laer te vervang nie.

Afhangend van model is die balers beskikbaar met net, of met tou sowel as net. Die beproefde Varionet-bindstelsel hanteer enige tipe net en sorg dat bale perfek toegedraai word.

Die reeks word plaaslik deur BHBW versprei. Vir meer inligting en beskikbaarheid van modelle, kontak Theo Pieterse by 011 898 0440 of e-pos tpieterse@bhbw.co.za.