Bespaar brandstof met Massey Ferguson

Weens die prys van diesel is brandstofverbruik ’n belangrike faktor wanneer nuwe trekkers gekoop word. Met Massey Ferguson bespaar jy tot een vyfde op brandstof en kan jy boonop staatmaak op uitnemende en betroubare werkverrigting.

Só sê mnr. Kobus van Heerden van die plaas Papkuilfontein naby Bethal oor sy ervaring van Massey Ferguson teenoor ander trekkerfabrikate die afgelope 15 jaar. Sy Massey Ferguson-trekkers van 74 kW tot 228 kW help hom om mededingend te bly en volhoubaar te boer, sê hy.

Van Heerden is ook lid van Platkop-kontrakgroeiers, ’n groep boere wat onder meer die Sonskyn-kunsmisaanleg by Standerton bedryf en binnekort ’n aanleg open om fosforsuur vir die plaaslike kunsmismark te lewer.

“In my ervaring bespaar Massey Ferguson jou tot 20% aan diesel teenoor vergelykbare trekkers van ander fabrikate, wat insetkoste help verlaag. Daarby bied die trekkers werkverrigting van gehalte en hoë betroubaarheid, wat in kritieke tye deurslaggewend is,” sê hy.

Van Heerden plant 1 500 hektaar mielies en soja en gebruik sy Massey Ferguson-trekkers onder meer vir grond- en saadbedvoorbereiding en om te plant.

Die vlagskip, ’n MF 8732 van 228 kW, trek ’n Kverneland-beitelploeg met 13 tande wat in swaar grond tot 350 mm diep werk teen gemiddeld 12 liter diesel per hektaar.

Die trekker vaar ewe goed met saadbedvoorbereiding, waar dit ’n sewe meter wye Kongskilde-implement teen agt liter diesel per hektaar sleep. “Teen 80 hektaar per dag gee dit my byvoorbeeld ’n besparing van tot 160 liter diesel per dag net met saadbedvoorbereiding teenoor ’n vergelykbare trekker van ’n ander fabrikaat,” sê Van Heerden. “Teen ’n dieselprys van R12,75 per liter is dit ’n stewige besparing aan die einde van die seisoen.”

Die MF 8732 maak deel uit van die MF 8700-reeks, wat ook modelle van 188 en 262 kW insluit. Dit beskik oor ’n AGCO Power 8.4 CTA-enjin, hoë CYCLAIR-verkoelingskapasiteit en Dyna-VT-transmissie, wat doeltreffende werkverrigting bevorder. Die transmissie bied deurlopende spoedvariasie, terwyl die DTM-trekkerbestuurstelsel die enjinspoed en transmissie outomaties aanpas vir maksimum kraglewering en brandstofekonomie in strawwe toepassings. Die trekker het ’n hysvermoë van 12 ton op die driepunt en ‘n hidrouliese kapasiteit van 205 liter per minuut om stabiele vloei vir die beheer van implemente te lewer.

“Werkverrigting met die Dyna VT-transmissie is voortreflik,” sê Van Heerden. “Jy sit die implement in die grond neer en trek weg. En as hy swaar trek, pas die trekker onmiddellik sy spoed of enjinomwentelinge aan.“

Ander pluspunte is die krag wat die enjin op die grond kry, beperkte wielglip en die afwesigheid van “power hop”, sê hy. “Die hidrouliese suspensie op die vooras, wat uit die kajuit afgeskakel kan word vir driepuntwerk, sorg vir puik rygerief. En ondanks die hoë vlak van tegnologie is dit ’n baie maklike trekker om mee te werk. Die uitleg van die kajuit sal moeilik geklop word.”

Die ander Massey Ferguson-modelle op Papkuilfontein lewer ewe goeie diens en brandstofverbruik. Hieronder tel ’n MF 7626 van 177 kW, toegerus met ’n Dyna-6-transmissie met 24 vorentoe- en truratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel, wat ook vir grond- en saadbedvoorbereiding gebruik word. “Dit is ’n harde trekker sonder tierlantyntjies, swaarder en langer as ander fabrikate in dieselfde kilowattsegment, maar met al die tegnologie wat jy soek,” sê Van Heerden.

’n Agtry-sojaplanter word getrek deur ’n MF 7614 van 96 kW met ’n Dyna-4-transmissie – “baie beweeglik, met ’n kort draaisirkel” – en twee sesry-mielieplanters deur MF 5465-trekkers van 88 kW, ook met ’n Dyna-4-transmissie – “praktiese, veeldoelige trekkers wat alles doen, van plant tot baal”. Die een MF 5465 het nou reeds 6 000 uur probleemvrye ure agter die blad.

“Boonop is die inruilwaarde van my Massey Fergusons deurgaans uitstekend en kry ek ná vyf jaar gemiddeld 75% van die oorspronklike koopprys terug. Jy kan nie vir ’n beter opbrengs op jou belegging vra nie.

“Ek kry ook uitstekende diens van Filter Dienste op Bethal, gerugsteun deur BHBW. BHBW se operateursopleiding op hoëtegnologietrekkers is sekerlik die beste in die land en van groot waarde om trekkers korrek en doeltreffend aan te wend,” sê Van Heerden.