Challenger stroop vir wins
Tegnologie en praktiese werkverrigting kom bymekaar in Challenger-stropers om hoë produktiwiteit teen die laagste moontlike brandstofverbruik te verseker. Die stropers, wat by die Nampo Oesdag op die BHBW-standplaas te sien sal wees, het die afgelope paar jaar hulle staal in ’n verskeidenheid toestande en gewasse gewys.
“Challenger-stropers hanteer hoë opbrengste met gemak, is ligter op brandstof en baie betroubaar,” sê mnr Japie Landman, wat saam met sy pa Johan naby Utrecht boer. Hulle het vanjaar ná drie seisoene ’n Challenger 520C (Klas 6) vir ’n 540C (Klas 7) verruil, om voorsiening te maak vir ’n groter aantal hektare wat gestroop moet word.
BHBW bemark ook die Challenger 560C, ’n Klas 8-stroper.
Met die Challenger 520C het die Landmans van Jajola Boerdery verlede jaar 1 600 hektaar mielies, soja en koring gestroop. Dit het mielies van tot sewe ton per hektaar op droëland en tot 15 ton onder besproeiing sonder probleme hanteer. “Daar is min Klas 6-stropers wat die Challenger dit sou kon nadoen,” sê Japie.
Hy beskryf Challenger-stropers as robuust en sonder fieterjasies, “met die minste knoppies op die mark. As jy die kant oopmaak, is daar net drie of vier belde, wat komplikasies verminder, en alle funksies word vanaf net een terminaal in die kajuit beheer.”
Graangehalte is onberispelik. “Die Challenger lewer ’n uitstekende monster, met bitter min aftrekkings, ongeag die gewas. Daarby word reste perfek gekerf en oor die volle wydte van die stroper versprei, wat ’n groot voordeel is met minimumbewerking.”
Die aankoopprys van die nuwe 540C was goed en hulle kon die 520C ná drie seisoene inruil vir baie naby aan wat hulle betaal het, sê Japie.
Hoë werkverrigting
Sleutelfaktore wat bydra tot die werkverrigting van Challenger-stropers is die groot sluk en die gladde vloei van materiaal na die rotor. Die rotor ontvang materiaal oor bykans 360 grade, wat opeenhopings en verstoppings voorkom. Dit verbeter sowel kapasiteit as die beheer van materiaal in die rotor- en konkaafgedeeltes.
Die rotor is 3,558 m lank, wat dit die langste konvensionele rotor op die mark maak. Dit het ’n elektries-hidrouliese losdraai- en tru-funksie (“rocker and reverser”) wat uit die kajuit beheer word. ’n Tweespoed-ratkas met rotorsnelhede van 264 opm tot 1 235 opm maak vir alle toestande en gewasse voorsiening.
Ligter op brandstof
In landswye stropertoetse met die Challenger 540C en 560C is bevind dat algehele dieselverbruik tot 20% minder is as by ander rotorstropers in Klas 7 en 8.
Die hoofrede is die suinige AGCO Power-enjin, en ook die feit dat dit teen 90 grade kantel om dit in lyn met die rotor te plaas. As gevolg hiervan is slegs twee aandryfbelde nodig en word die maksimum krag aan die rotor gelewer. Die kragverlies tussen die enjin en rotor is minder as 10%.
Die plasing van die enjin maak plek vir Challenger se V-Cool-verkoelingstelsel wat lug intrek vanaf die skoonste deel van die stroper – sy bokant. Die V-Cool-stelsel meet die omgewingstemperatuur sowel as die temperatuur van stroperfunksies en werk dan teen die optimale snelheid om die enjin behoorlik koel te hou. Dit verminder die kragvereiste en brandstofverbruik. Die V-Cool-stelsel het ’n tru-waaier waarvan die spoed outomaties aanpas om kaf en vuilgoed weg te hou van die inlaatskerm. Dit maak dit feitlik oorbodig om verkoelingselemente tydens die oesseisoen skoon te maak.
Die Challenger 520C se graantenk hou 10 570 liter en dié van die Challenger 540C en 560C 12 300 liter. Graan word teen 159 liter per sekonde afgelaai – die vinnigste op die mark.
Alle Challenger 500C-stropers word as Autoguide Ready uit Amerika ingevoer. Stropers kan ook opsioneel toegerus word vir die pas van videokameras (Video Ready). Vierwielaandrywing en dubbelvoorwiele is as opsie beskikbaar.
Onderskrif vir foto: Mnre Johan (links) en Japie Landman van Jojola Boerdery, Utrecht by hul nuwe Challenger 540C.