Fendt gaan van krag tot krag

Sedert Fendt twee jaar gelede in Suid-Afrika bekend gestel is, gaan dié trekkers van krag tot krag, met vlakke van werkverrigting, beheer en brandstofekonomie waarvan die meeste ander trekkers maar net kan droom.

Fendt word bemark deur BHBW, wat fokus op vier reekse met kraglewering van 94 tot 380 kW. Die hart van die trekkers is Fendt se deurlopend-wisselende transmissie – ’n Vario-transmissie by modelle tot 243 kW, en ’n VarioDrive-transmissie met onafhanklike vierwielaandrywing by die vlagskip- Fendt 1000 Vario-reeks.

Fendt-trekkers se brandstofverbruik is plaaslik sonder gelyke, sê Frans Cronjé van BHBW. “In vergelykende demo’s wat ons deurentyd doen, is Fendt elke keer eerste, met brandstofbesparings van vyf tot 17 liter per hektaar, afhangend van die toepassing en grondtoestande. Dit beteken dat jy die premie wat jy moontlik vir ’n Fendt betaal binne vier jaar of 4 000 uur afbetaal – en intussen kry jy die voordele van buitengewone trekkertegnologie. Daarby is die hele reeks baie veelsydig.”

Mnr Pieter Hamman van Vereeniging het vroeër vanjaar ’n Fendt 1050 Vario van 380 kW aangekoop om primêre bewerking meer doeltreffend te doen. Hy plant wortels, aartappels, mielies, koring en soja, en bewerk 650 hektaar onder besproeiing en 800 hektaar op droëland. Die Fendt trek ’n vier meter wye Horsch-kombinasiewerktuig en sleep ’n elftand-skeurploeg wat tot 650 mm diep in swaar grond werk.  

“Die hele ontwerp van die trekker het my aangetrek,” sê Pieter. “Alles draai stadiger, wat noodwendig brandstof bespaar en slytasie en diensintervalle verminder. Die transmissie pas die werkspoed outomaties aan by toestande, en maksimum kraglewering en wringkrag, sowel as die laagste spesifieke brandstofverbruik, word teen net meer as 1400 opm gehandhaaf. Ek sal nie weer ’n groter trekker sonder ’n deurlopend-wisselende transmissie koop nie.”

Omdat primêre bewerking hoofsaaklik onder spilpunte gedoen word, is die Fendt se skerp draaisirkel ’n groot plus. Met sy onafhanklike vierwielaandrywing word die trekker deur draaie getrek en nie gestoot nie, wat slytasie beperk. ’n Knakker in dié kilowattklas draai te wyd en slytasie op die onderstel sou ook te veel gewees het.”  

Daarby bied Fendt jou alle moontlike tegnologie om bewerking te vergemaklik. “Wanneer die trekker eers geprogrammeer is, druk jy basies net ’n knoppie om te begin ry en dan weer te stop.”

Nog ’n nuwe lid van die Fendt-familie is die LFC-groep van Wesselsbron, wat ’n Fendt Vario 724 van 168 kW aangekoop het om hul trekkervloot vir plantwerk en kunsmistoediening aan te vul.

Waarde vir geld
“Die Fendt Vario 724 is by uitnemendheid geskik vir plantwerk, met voldoende olielewering, en het sover baie goeie resultate gelewer,” sê mnr Lourens van der Linde jr van die LFC-groep. “Iets wat uitstaan is die uitsonderlike wyse waarop die Vario-transmissie die verhouding tussen lae omwentelinge en kraglewering handhaaf, wat brandstofverbruik verlaag. Daarby is die trekker maklik om te beheer en gee ek hom 11 uit 10 vir rygerief.

“Wat afwerking betref is dit nie net die kajuit wat van gehalte spreek nie – die meganiese aspekte van die trekker is iets besonders. Ek het nog nooit so iets teëgekom nie. Jy betaal ’n premie vir ’n Fendt, maar jy kry waarde vir jou geld.”

Die vier Fendt-reekse wat plaaslik deur BHBW bemark word, is die Fendt 1000 Vario (291-380 kW), Fendt 900 Vario (199-243 kW), Fendt 800 Vario (162-206 kW) en Fendt 700 Vario (94-162 kW). Vir meer inligting of ’n demonstrasie, skakel Frans Cronjé van BHBW by 083 513 8084.

Onderskrif vir foto: Mnr Pieter Hamman van Vereeniging by sy Fendt 1050 Vario.