Gevind: Die regte trekker- en planterkombinasie
Met klimaatsverandering en die vensterperiode vir plant wat al hoe korter word, is ’n betroubare trekker-en-planter-kombinasie ’n moet. Massey Ferguson se hoëtegnologietrekkers en breedwerkplanters bied hoë produktiwiteit in planttyd en tegnologie wat jou meer doeltreffend en winsgewend laat boer.
So sê mnr. Derick van Zyl van Ini Hak Boerdery by Ventersdorp wat hom verlede jaar vir die eerste keer tot Massey Ferguson gewend het ten einde sy korter planttyd optimaal te benut, presisieboerdery toe te pas, akkuraat oor kontoere te plant, en kostes te bespaar. Hiervoor het hy van ’n agtry-vingerplanter oorgeskakel het na ’n 16-ry-breedwerkplanter van Massey Ferguson, en ook ’n MF 7726 trekker wat 176 kW lewer, aangekoop.
Die resultaat van dié kombinasie was doeltreffender werkverrigting, groter produktiwiteit en ook brandstofekonomie aan trekkerkant, sê hy.
Van Zyl verbou 800 hektaar mielies op droëland en 40 hektaar onder spilpunte. Die mielies word verwerk tot voer vir sy familie se hoenderboerdery, Willow Valley Poultry Farms, by Ventersdorp.
Met die MF 9816 Forward Fold Flex-breedwerkplanter met 76 cm-rywydtes is die 800 hektaar droëlandmielies binne 10 dae geplant. “Met my vorige agtry-vingerplanter sou ek met vanjaar se kort vensterperiode nie die helfte soveel geplant gekry het nie,” sê hy.
Die planter bestaan uit drie dele – vier ry-eenhede in die middel en twee dele met ses ry-eenhede elk aan die kante, wat vorentoe toevou vir vervoer. Van Zyl dien kunsmis vooraf toe, en vloeibare onkruiddoder vanaf die planter.
Die buitenste dele van die planter kan tot 21 grade op en af kantel – omtrent drie keer soveel as die vergelykbare opposisieplanter waarna Van Zyl gekyk het – sodat al 16 ry-eenhede die hele tyd in kontak bly met die grond om ’n konstante diepteplasing te verseker. “Omdat die 16-ry-planter van die opposisie agt ry-eenhede in die middel het, begin die punte ook oor kontoere in die grond vassteek,” sê hy.
Die verskil wat die fleksievermoë van die planter aan die plantestand maak is opmerklik. Sowat die helfte van die lande het holvoorkontoere van tot 1,2 meter diep. Hier is die plantestand omtrent 10% beter as met die vorige planter.
Die Massey Ferguson-planter word ten volle hidroulies beheer en ry-eenhede kan uit die kajuit aan- of afgeskakel word.
“Dit is ’n groot voordeel dat elke ry-eenheid onafhanklik kan afskakel – teenoor vier eenhede by die ander planter waarna ek gekyk het. So word daar nêrens dubbeld geplant, byvoorbeeld op wenakkers, nie.
“By toevlugareas het die planter agt rye elk van BT- en nie-BT-mielies saam geplant en die inspekteur sê die skeiding is een van die bestes wat hy nog gesien het. Dit is omdat elke karretjie afsonderlik aan- en afgeskakel kan word.”
Die planter, wat met positiewe lugdruk werk, plant absoluut akkuraat, sê Van Zyl. Pitte – 28 000 op droëland en 80 000 onder spilpunt – is op die regte diepte en met die regte spasiëring geplaas en daar is nie dubbels of mispitte nie.
Nog ’n groot voordeel is dat die planter smal genoeg toevou om deur ’n gewone plaashek te kan gaan.
Werkverrigting en waarde vir geld
Hoewel die MF 7726 eerstens aangeskaf is om mee te plant, word dit ook vir grondvoorbereiding gebruik. ’n Skeurploegbewerking word elke derde jaar op ’n derde van die lande gedoen en die trekker het sewe tande wat tot 450 mm diep werk in moeilike sandleemgrond, gerieflik teen 7,5 kilometer per uur getrek, en teen minder as 10 liter brandstof per hektaar gemiddeld. “Die groot brandstoftenk van 431 liter het beteken dat ons die trekker eers elke 45 hektaar moes volmaak,” sê Van Zyl.
Die Row Crop-wiele is gestel op 76 cm, om aan te pas by die rywydte in die lande.
Hy sonder ook die gerief van die trekker se Dyna-6-transmissie, met sy 24 vorentoe- en truratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel, uit. “Jy kan alles voor die tyd stel om te verseker dat jy so ekonomies en doeltreffend moontlik werk. Vir al die tegnologie wat jy kry, bied die MF 7700-reeks puik waarde vir geld.
“Dit is vir my belangrik om nie agter te bly nie,” sê Van Zyl. “Ek moet groter en vinniger werk as gevolg van klimaatsverandering, en Massey Ferguson-tegnologie help my om dit te doen. Daarby kan ek altyd staatmaak op die vinnige reaksie en ondersteuning van my Massey Ferguson-handelaar, Tradestuff by Hartebeesfontein.”