Slim trekkers laat jou meer ekonomies boer

Massey Ferguson se nuwe generasie trekkers is slim, lekker om mee te werk en laat jou meer doeltreffend en ekonomies boer, sê mnr. Johan Uys van die distrik Wakkerstroom. “Boonop kry jy baie tegnologie vir die prys van die trekker.”

Johan en sy broer Pikkie boer op die plaas Gryshoek aan die voet van die Drakensberge. Hul kinders is al die sesde geslag op die plaas. Hul voorouers, onder wie Swart Dirk Uys wat nou betrokke was by die stigting van die dorp Wakkerstroom, het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die Drakensbergerbeesras, en Drakensbergerbeeste en Merinoskape bly ’n groot komponent in die broers se boerdery. Afgesien van voergewasse, plant hulle ook 940 hektaar mielies en sojabone.

Johan, wat verantwoordelik is vir graan- en voerproduksie, het hul eerste Massey Ferguson, ’n MF 475 van 97 kW, in 2012 gekoop. Dit is ná sewe jaar nog steeds deel van die boerdery. Toe hy oorskakel na presisieboerdery was Massey Ferguson vir hom die logiese keuse.

“Ek het navorsing gedoen, geluister na ander boere se ervaring, en geweet ek kan staatmaat op goeie rugsteuning deur JWL Landbou op Ermelo. Ek was nog nie een dag spyt nie,” sê hy.

Sy behoefte was na ’n AutoGuide Ready-trekker met genoeg hidrouliese vloei vir sy veranderende behoeftes. Die werkverrigting van sy eerste hoëtegnologie-Massey, ’n MF 7620 van 136 kW, was van so ’n aard dat hy nog twee aangeskaf het, ’n MF 7618 van 121 kW en ’n MF 7720, die opvolger van die MF 7620, ook met kraglewering van 136 kW.

Al drie trekkers beskik oor brandstofdoeltreffende, elektronies beheerde AGCO Power-enjins en Dyna-6-transmissies met 24 vorentoe- en truratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel. ’n Engine Power Management-funksie lewer ekstra krag wanneer benodig.

Die trekkers het ’n geslotebaan- hidrouliese stelsel met vier koppelpunte wat 150 liter olie per minuut by die MF 7620 en MF 7720 lewer, en 110 liter per minuut by die MF 7618 – meer as genoeg vir die bewerkings- en bewaringspraktyke op Gryshoek.

“Behalwe dat ek die voordele van presisieboerdery kan benut, kon ek met dié trekkers oorskakel van vier vierryplanters na twee agtry-minimumbewerkingsplanters met net twee trekkeroperateurs.”

’n Diep bewerking word driejaarliks gedoen op lande waar sojabone geplant is, nadat kalk toegedien is. “Die MF 7620 sleep die 12 tande wat tot 350 mm diep werk en ’n dubbelroller met gemak teen tot agt kilometer per uur.

“Die Masseys se goeie krag-tot-gewig-verhouding verbeter kragoordrag na die grond en bring mee dat kraglewering doeltreffender benut word.”

Die tegnologie is baie gebruikersvriendelik, sê Johan. “Met diepbewerking programmeer jy byvoorbeeld die verlangde omwentelinge per minuut en werksdiepte, en dan werk alles met die druk van ’n knoppie.”

Daarby verseker wenakkerbestuur dat werktuie outomaties gelig word en presies in die regte werksposisie terugsak, wat brandstof en tyd bespaar.

Hy sonder ook die elektronies beheerde driepuntstelsel uit. Sensors op die onderste hyserarms laat die stelsel vinniger reageer, wat werkverrigting en brandstofverbruik verbeter. “As jy ’n damskrop trek, moet jy ’n duim grond op ’n slag kan skep. Massey se sensitiewe hyser maak dit moontlik.”

Die hysvermoë van die trekkers wissel van 8,1 ton by die MF 7618 tot 9,6 ton by die MF 7720.

Trekkers uit Massey Ferguson se Global-familie is ook sedert verlede jaar bygevoeg. ’n MF 5710 van 76 kW met ’n gesinchroniseerde 12-spoed-ratkas word gebruik om te sny, spuit en waens te sleep. “Dit is ’n uitstekende trekker met baie wringkrag vir sy grootte, en baie veelsydig,” sê Johan.

MF 6711-kajuitmodelle van 83 kW en met ’n gesinchroniseerde 12-spoed-ratkas doen baal- en algemene plaaswerk. “Ek is weer eens geïmponeer deur die duursaamheid van dié trekkers en ook hul hysvermoë tot 5,2 ton.”

“Dit is trekkers soos hierdie wat my help om kritieke bewerkingsvensters optimaal te benut,” sê Johan.

Onderskrif vir foto: Massey Ferguson-boer mnr. Johan Uys van Wakkerstroom.