‘Tegnologie en diens wat werk’

BHBW streef met sy Massey Ferguson-trekkerreeks na tegnologie wat boere help om produktief en doeltreffend te boer. Voeg daarby hoë vlakke van dienslewering deur jou handelaar en jy kan staatmaak op gemoedsrus aan meganisasiekant.

Goeie plaaslike ondersteuning deur sy Massey Ferguson-handelaar, OVK, was die hoofrede waarom mnr. Quentin de Bruyn van die plaas Vastrap by Ladybrand drie jaar gelede na Massey Ferguson oorgeskakel het. Sedertdien het die werkverrigting van daardie eerste trekker, ’n hoëtegnologie-MF 8670 van 213 kW, hom nog twee Masseys laat koop.

Quentin, een van Suid-Afrika se voorste Boran-beestelers, plant sowat 1 200 hektaar mielies, sonneblom en koring per jaar asook hawer en tef vir veevoer.

Hy is nie vas aan enige handelsmerk nie en kyk met die aankoop van trekkers na prys, gehalte en ondersteuning. Die reputasie van die vervaardiger is ook vir hom belangrik. “As jy kyk na Massey Ferguson se belegging in navorsing en ontwikkeling is dit duidelik dat hulle daar is vir die lang termyn,” sê hy.

Die MF 8670 word gebruik om ’n diepbewerkingsimplement met 13 tande wat tot 350 mm diep werk asook ’n 10 m-wye DBX-kleingraanplanter te sleep. Dit het sedert 2017 reeds meer as 4 000 uur probleemvry gewerk.

Soos die modelle in die nuwe MF 8700-reeks van 188 tot 262 kW, is die MF 8670 toegerus met ’n AGCO Power-enjin en Dyna-VT-transmissie, wat doeltreffende werkverrigting bevorder. Die transmissie bied deurlopende spoedvariasie, terwyl die trekkerbestuurstelsel, DTM (Dynamic Tractor Management), outomaties die enjinspoed en transmissie aanpas vir maksimum kraglewering en brandstofdoeltreffendheid.

Dié tegnologie werp vrugte af op sy plaas, sê Quinten. “Ek is beïndruk deur die MF 8670 se trekvermoë en wringkrag – dit trek die diepbewerkingsimplement selfs in harde lande met die grootste gemak.”

Die trekker het ‘n hysvermoë van 12 ton op die driepunt en ’n stewige hidrouliese kapasiteit om stabiele vloei vir die beheer van implemente te lewer.

Omdat daar met driepunt-implemente op Vastrap se kontoerlande gewerk word, is die hysvermoë belangrik. Die “quick hitch”-meganisme beteken ook dat implemente vinnig op die land ontkoppel en daar gelaat kan word.

’n MF 6711 van 83 kW, uit Massey Ferguson se staatmaker- Global-reeks, word hoofsaaklik gebruik vir baalwerk en om ’n kontrasnyeg te sleep – “wat dit veel makliker doen as ’n vergelykbare trekker van ’n ander fabrikaat,” sê hy. “Die MF 6711 is ’n swaar, stewige trekker met ’n groot hidrouliese kapasiteit en ’n aanwins op die plaas.”

Ten einde oor te skakel na presisieboerdery met planttyd het Quentin verlede jaar ’n MF 7614 van 95 kW bygevoeg om ’n sesryplanter te sleep. Dié trekker beskik oor Massey Ferguson se beproefde Dyna-4-transmissie met 16 vorentoe- of trutratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel. “Die prys was uitstekend, die tegnologie van pas, en ek hou van die robuustheid van die trekker,” sê hy.

“Daar is nie iets soos ’n perfekte trekker nie, dit gaan oor hoe jy behandel word. By OVK is jy nie net ’n nommer – enige boer kan die hoofbestuurder bel en hy sal die telefoon optel. In planttyd het ’n tegnikus op ’n Saterdagmiddag kom help. En ek het dieselfde ervaring van BHBW – lede van hoofbestuur was al op my plaas en ek kan met die hoof van die besigheid daar praat. Jy kry dit nie sommer nie.” 

Onderskrif vir foto: Mnr. Quentin de Bruyn by sy MF 8670 van 213 kW.